Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARL-NUUS – SONDAG 9 NOVEMBER 2008

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In die nuus vandag:

KANTOORADMINISTRATEUR VERLAAT DIE SARL

HET U AL U LISENSIE BETAAL?

SA AFVAARDIGING NA IARU-KONFERENSIE KOM IN KROASIË AAN

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

KANTOORADMINISTRATEUR VERLAAT DIE SARL

Die Raad van die SARL het die bedanking van die kantooradministrateur, Vee Antal, aanvaar. Haar laaste werksdag sal 30 Januarie 2009 wees. Die SARL kyk na verskeie opsies in die soeke na ’n vervanging. Geskikte kandidate wat in sowel Engels as Afrikaans vaardig is, en ten volle rekenaargeletterd is, word uitgenooi om ‘n gedetailleerde CV deur middel van ‘n e-pos aan die sekretaris@sarl.org.za voor 21 November 2008 te stuur. Die instuur van ’n CV sal nie noodwendig beteken dat ’n onderhoud gehou sal word nie.

HET U AL U LISENSIE BETAAL?

Gaan asseblief na of u amateurradiolisensie vir vanjaar betaal is. Aan die begin van die jaar is fakture vir radiolisensies laat versend en sommige radioamateurs het nie die hernuwingskennisgewings ontvang nie. OKOSA het ’n lys van onbetaalde lisensies op hul webwerf by www.icasa.org.za geplaas. Klik op “Frequency Spectrum advertisment” en op die volgende bladsy is daar ’n sigblad met besonderhede oor onbetaalde lisensies.

As u naam op die lys voorkom maar en u het wel betaal, kontak Me Stella Mahlawe by 011 566 3883 of stuur ’n e-pos aan smahlawe@icasa.org.za, of ’n faks aan 011 566 3884; of aan Opsigter Insamelings: Lindsay Le Roux op 011 566 3895 of e-pos aan lleroux@icasa.org.za of faks aan 011 566 3896 met u betalingsbesonderhede. Die sperdatum hiervoor is 28 November waarna alle onbetaalde lisensies gekanselleer sal word.

Indien u van die RA-eksamens in hierdie jaar geskryf het, en u naam verskyn op die lys, moet u geen aksie neem nie. Die SARL en OKOSA het die probleem geïdentifiseer en neem die nodige aksie om dit op te los.

SUID-AFRIKAANSE AFVAARDIGING NA DIE IARU-KONFERENSIE KOM IN KROASIË AAN

Die SARL-afvaardiging na die IARU Streek1-konferensie het gister in Kroasië aangekom. Die konferensie begin vandag. Rassie Erasmus, ZS1YT, en Dennis Green, ZS4BS, sal baie besig gehou word, aangesien daar tot vier verskillende sessies gelyktydig op sekere dae sal plaasvind. Dit sou ideaal gewees het indien vier afgevaardigdes gestuur kon word, maar fondse het dit nie toegelaat nie.

Die afvaardiging sal voorleggings maak by die finale gesamentlike byeenkoms om die IARU Streek 1 uit te nooi om die volgende byeenkoms in 2011 in Suid-Afrika te hou. Om die voorlegging te sien, besoek www.sarl.org.za, kies “publications” en gaan na ARMI.

Die SARL-afvaardiging sal ook die Namibiese Radioliga by die konferensie verteenwoordig.

’n SARL President se net sal op Sondag 30 November 2008 om 19:30 gehou word, waartydens die afgevaardigdes oor die konferensie verslag sal doen. Die tegniese probleme wat die vorige President se net gepla het, is opgelos.

NUWE LEDE

Ons verwelkom die volgende nuwe lede en wens hulle ’n lang en vrugbare verbinding met die SARLm toe en dat hulle die stokperdjie terdee sal geniet:

ZR3SVD, Sian van Deventer;
ZS1JVE, Jacob Venter;
ZU4DEF, Brendon Muller;
ZS1ANF, Oleg SAKHAROV;
DL2MHB, M. Schwenkert;
ZR6EXT, A.T. Exton;
ZS0AWA, Antieke Draadloosvereniging van Suid-Afrika;
ZSL435, J. Topham;
ZU6RJ, R. Jansen van Rensburg;
ZR6VKW, W. Goodchild;
ZR6GES, S.E. Gqoli;
ZR6LMK, L. Keana;
ZR6LLE, L Letaba;
ZR6SLP, S. Lesenjane;
ZR6HAG, J. Mbelengwa;
ZR6ABT, J. Pretorius;
ZU6JJ, J. Moholokane;
ZU6ZO, S.Zondi;
ZU6TSO, H.P.Tsotetsi;
ZU6JKM, J.K.M. Molefe
ZU6KPP, K.P. Mokoena;
ZU6MBE, P. Mbelle;
ZU6PBK, B. Kheswa.

RTA OP DIE WEB

’n Aantal van die ‘Radio-Tegnologie-in-Aksie‘-aanbiedings is nou op die web beskikbaar. Besoek www.sarl.org.za, klik op ‘activiies’ en dan RTA.

KLUBNUUS

By die AJV van die AWA, wat op die plaas van Willem, ZS4l, by Harrismith op 8 Oktober gehou is, is die volgende komitee vir 2009 verkies:

President Rad, ZS6RAD;
Skakeling/sekretaris Andy, ZS6ADY;
Tegniese adviseur Don, ZS5DR.

Ons wens die komitee geluk met hul herverkiesing tot hierdie poste.

Die Hoër Tegnologiese Skool John Vorster se Radio-amateurklub, ZS6JVT, het die afgelope naweek hulle AJV gehou. Die volgende lede is tot ‘n nuwe komitee vir 2009 verkies:

Voorsitter Tiaan van Eeden, ZS6TVE;
O/ Voorsitter Stephen Frost, ZR6SJO;
Sekretaris /Penningmeester Philip Cronje, ZR6JPC;
Sosiaal Jacques Brosens, ZU6IB.

Johann du Plessis, ZS6PSS, is deur Magalies Radioamateurklub as voog aan ZS6JVT toegewys om die jong lede van die klub leiding te gee waar nodig.

Die uitgaande komitee word bedank.vir hulle bydrae die afgelope jaar en die nuwe komitee word ook voorspoed toegewens met baie nuwe idees en beplanning wat vir 2009 voorlê. Na die AJV is daar lekker gebraai saam met van die leerders se ouers en heerlik gekuier tot laatmiddag.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil wees tot 23 November. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees.

20 m is die beste keuse vir DX, met moontlike 15- en 20 m-openinge vanaf onderskeidelik 12:00 en 15:00 SAT na Indië. Kontakte met Nieu-Zeeland gaan baie uitdagend wees. Om 08:00 is daar moontlike flou 20 m openinge na Australië. Kontakte met Peru is om 08:00 vir 'n kort rukkie op 20 m moontlik. Brasilië kan waarskynlik op 15 m vanaf 12:00 gewerk kan word en op 20 m vanaf 18:00.

Vanaf ongeveer 16:00 is daar moontlike swak 15-en 20 m-openinge na Europa. Kontakte met die VSA se ooskus is op 15 m om 18:00 moontlik.

10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir Morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroeg oggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer.

Saans is 80 m die beste keuse. Met die somer hier, kan donderstorms en statiese ateuringstoestande uitdagend wees.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF u altyd kan verras. Skakel u stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat u deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

15-16 November - 2de been van SARL-HF-velddagkompetisie;
21 November – Laaste dag vir indiening van aansoeke om SARL se pos as kantooradministrateur;
28 November – Laaste dag vir betaling van agterstallige lisensies vir 2008;
29 November - Kursus oor die gebruik van PICs;
30 November - Nominasies vir raadslede moet in wees;
30 November - Databasis van herhalers moet op datum wees;
31 Januarie 2009 - Mosies en agenda-items moet in wees.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Gustav, ZS6BWN, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003